Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail

'GOD EN DIE MAUSER'
Ben Viljoen - die vergete Boeregeneraal

deur M S Coghlan (Natalse Provinsiale Museumdiens)
Ben Viljoen se betrokkenheid by Newcastle tydens die Tweede Vryheidsoorlog was net vlugtig, maar sy naam het nou verbonde geraak aan die dorp, waarskynlik vanweë sy prominente politieke en militere loopbaan in die Zuid-Afrikaansche Republiek en sy latere prestasies in die Verenigde State en Mexiko. Gedurende die Boere se besetting van Newcastle (Oktober 1899 tot Mei 1900), is die dorp hernoem tot Viljoensdorp en die huidig wapenskild sluit die familiewapen van die Viljoen-familie in.
Viljoen se opwindende en uiteenlopende verhaal lees byna soos 'n Rider Haggard-avontuur. Sy betrokkenheid by die twee oorloë in twee verskillende werelde ewenaar die loopbane van roem-ryker kollegas soos Louis Botha en De Wet. Ten spyte hiervan, en 'n reisprogram wat Umtata, St Helena en Mexiko ingesluit het, is hy vandag relatief onbekend.
Viljoen is op 7 September 1869 in die distrik Wodehouse in die Kaapkolonie gebore en het grootgeword op die plaas Varkiesdraai, naby Umtata, in die teenswoordige Transkei, waar hy waarskynlik die veldkennis opgedoen het wat hom goed te pas gekom het tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy is in 1889 op Umtata met sy eerste vrou, Helena, getroud.
Nadat hy in 1890 na Johannesburg verhuis het, het Viljoen prominent geword in burgerlike sake en joernalistiek, maar sy vernaamste belangstelling het in militêre aangeleenthede gelê. In 1896 het hy die Krugersdorpse Vrywilligerskorps gestig (min of meer vergelykbaar met die Natalse vrywilligersregimente soos die Natal Carbineers) en het die stryd aangepak teen die Jameson-invallers (Desember 1895 tot Januarie 1896) en swart kapteinskappe. As die lid vir Krugersdorp in die Volksraad, het Viljoen president Kruger teengestaan en wou die Uitlandergeskil oplos. Toe die oorlog teen Engeland egter onvermydelik geword het, het hy by die konflik betrokke geraak met 'n entoesiasme en toewyding wat selde afgeneem het, en het hy sy geloof, soos hy dit gestel het, op 'God en die Mauser' gevestig.
As 'Vegtende Kommandant' van die Johannesburgse Kommando, het Viljoen sy manne, laat in September 1899, by Volksrust bymekaargeroep waar twee vrywilligereenhede, die Duitse- en Hollandse korpse hulle by hom aangesluit het. Op die aand van 11 Oktober het sy kommando die Natalse grens oorgesteek en laer getrek saam met die hoof Natalse invalskolonne by Schuinshoogte (Ingogo), die terrein van 'n Boere-oorwinning gedurende die Eerste Vryheidsoorlog van 1881.
Boerekommando's is tussen 14 en 17 Oktober deur Newcastle op pad na die Natalse front. Min inligting is beskikbaar oor die permanente besetting van die dorp, alhoewel dit gedien het as 'n kommissariaatsbasis (dit was voor die mobiele guerillafase van die oorlog en Boere-kolonnes is belemmer deur lomp rye voorradewaens soos in die Britse Leër). 'n Russiese Rooikruis ambulanskorps was vir 'n kort rukkie by die klooster gestasioneer (tans bekend as die St Dominic's Academy) en Boerevroue wat hul mans vergesel het, het skynbaar hul basis in Newcastle gemaak. Kommandant-generaal Piet Joubert, 'n veteraan van die 1881-seges in die gebied, het 'n vrederegter aangestel (ene mnr J Moodie), wapens gekonfiskeer, 'n aandklokreel ingestel en wette vir die administrasie van die dorp uitgevaardig






You can leave a response, or trackback from your own site.

1 Response to "Ben Viljoen - die vergete Boeregeneraal van Krugersdorp"

  1. Anonymous Said,

    Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
    God het jou lief. Lees jou Bybel.

    Posted on May 25, 2011 at 9:14 AM

     

video

My Blog List