Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail

Met klippe oor die kop

11:16 PM Posted by Verkenner
Amanda Roestoff

Krugersdorp. – Die seun van ’n bekende melkboer in Sterkfontein, buite dié dorp, is eergisteraand deur ’n bende gewapende rowers met ’n klip oor die kop platgeslaan en toe doodgeskiet.

Mnr. Loffie van der Gryp (48), seun van mnr. Piet van der Gryp, bekende suiwelprodusent aan die Wes-Rand, is omstreeks 23:00 vermoor.

Dit nadat 12 gewapende rowers op Sterkfontein-melkery, die familieboerdery reg langs die Greensleeves-restaurant op die R563-roete na Hekpoort en Meropeng, toegeslaan het.

Van der Gryp jr. was dié melkery se bestuurder.

Mev. Salomé Henning (35), die oorledene se skoonsuster, sê haar swaer het elke aand sowat 150 m van die hoofhuis na die melkery gestap om die yskaste na te gaan.

Rowers het vermoedelik uit die bosse op hom toegesak en hom buite die melkery se kantoor oorval.

Hy is vasgebind en glo met vuurwapens en klippe oor die kop geslaan in die rowers se poging om toegang tot die kluis te kry.

Van der Gryp jr. se vrou, Linda (46), sy seuns, Bennett (23) en Roelof (21), en sy dogter, Leandré (17), ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp, is in die huis oorval. Mev. Van der Gryp is volgens haar suster “kalm gedwing om aan te trek” en moes met ’n vuurwapen teen haar kop die rowers na haar kinders se slaapkamers vergesel. Almal is met skoenveters en drade vasgebind. Komberse is oor hul koppe gegooi.

Past. Boer Booysen (65) van die AGS-gemeente in Krugersdorp-Wes wat in een van die drie huise op die perseel woon, het ná 22:30 ná ’n vergadering by die huis opgedaag en onraad vermoed toe hy ’n lig in die kantoor sien brand het.

Booysen het met sy vuurwapen en ’n flits gaan ondersoek instel.

Hy het ’n hand by die kantoor sien uitsteek. Toe word daar op hom geskiet.

“Ek het gevoel hoe dit (die koeël) soos ’n kam deur my hare vleg en by my oor verby fluit!”

’n Oor-en-weer-skietery het uitgebreek. Dis toe dat die rowers Van der Gryp jr. glo met ’n klip oor die kop platgeslaan en hom in die bors geskiet het voordat hulle gevlug het.

Booysen se seun, Jaco (43), wat in die derde huis op die perseel woon, het van die skote na buite gestorm. Hy het sy pa langs die pad na die Van der Gryp-huis gekry en hulle is saam na dié huis.

Die pastoor het die huis binnegestap en na die huismense geroep. Niemand het geantwoord nie. Toe hy uitstap, klap ’n haelgeweerskoot soos wat die rowers uit die huis vlug en word hy in die linkerbobeen getref.

Die gesinslede kon hulle intussen loswikkel.

Roelof het op sy pa se lyk “wat nog warm was”, buite die melkery afgekom. Hy is vermoedelik op slag dood van die skoot.

Sowat 21 koeëlgate is later oral in mure en vensters gevind. Die rowers, wat ook een van die gesin se honde doodgeslaan het, kon net R300 en vyf selfone buit.

Enkele dae voordat Van der Gryp jr. vermoor is, is mnr. Pieter de Villiers op sy 62ste verjaardag deur rowers gewond.

De Villiers is Sondagaand in sy regterbobeen en -hand geskiet toe rowers op sy vrou, Annie, sy buurman, Kenny, en dié se vrou, Arlene, toegeslaan het terwyl hulle de Villiers se verjaardag gevier het.

De Villiers se seun, Dawie (32), sê tussen vyf en agt rowers het Sondagaand omstreeks 20:00 oor die lae heining van hul kleinhoewe in die Sterkfontein-landbouhoewe-gebied gespring. Die huismense het onraad vermoed toe die hond geblaf het. Net daarna het die rowers toegeslaan en sy pa uit die huis gepluk en met ’n 9 mm-pistool in die been geskiet.

“Hy moes probeer keer, want twee van sy vingers is ook getref.”

Die rowers het die ander drie mense ook met pistole en die agterkant van ’n panga aangerand voordat hulle met die buurvrou se geld in haar handsak, sy pa se Nissan 1400-bakkie en ’n DVD-speler vort is. Die buurman het ’n sny aan sy kop opgedoen. Mev. de Villiers en haar man sterk albei in die Netcare Krugersdorp- private hospitaal aan. Mev. de Villiers se kopwond is met steke geheg en ’n staalpen moes in haar man se been ingeplant word.

Die geroofde bakkie is Maandag verlate in Tarlton gevind.
You can leave a response, or trackback from your own site.

0 Response to "Met klippe oor die kop"

video

My Blog List