Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail

’n Boer sukkel met ’n plan

10:43 PM Posted by Verkenner
Marié Pieterse
“Tarlton is grensloos en draadloos. Ons het nie eens meer wrakke op die plase oor nie.”
So sê een van die moedelose boere, Neels Bouwer (49), oor die gebied wat deur die DA se woordvoerder vir veiligheid en sekuriteit, LP Diane Kohler Barnard, as die “Wilde Weste” bestempel word.
“Die misdadigers teiken die boeregemeenskap en dit wil voorkom asof hulle ongestraf bly,” sê Diane.
Vyftien boere van Tarlton het onlangs vergader en aan Wes-Beeld die omvang van hul skade verduidelik.
Dis veral die herhaalde diefstal van alle metaalprodukte – van hangdrade (droppers) en besproeiingswerktuie soos dompelpompe, boorgatpype, spilpunt-onderdele – tot koperkrane en kopergewigstukkies in die plastieksproeierkoppe wat dit vir hulle onmoontlik maak om hul groente en blomme te besproei.
Blomboer Hans van Aalst (45) sê die stutpale word onder sy blomme uitgesteel en dit vernietig sy blomoes.
Behalwe vir groente en vee word diesel uit die trekkers se brandstoftenks gesteel en sweis van die boere nou al hulle batterye aan die trekkers vas.
By Antonio Fernandes (68) is daar vroeër vandeesmaand twee nagte na mekaar twee besproeiingspompe ter waarde van R200 000 gesteel.
Volgens die boere word een sektorpolisievoertuig ingespan om die hele gebied te bedien en het Tarlton slegs ’n satelliet-polisiekantoor met beperkte ure.
Diane sê die DA beskou die toestand in ’n ernstige lig en die opskorting van die kommandostelsel het ’n vakuum gelaat wat nie deur die SAPD gevul is nie.
Die party vra dat ’n gespesialiseerde plattelandse veiligheidsafdeling onder die polisie gevestig word om te help om die probleem op te los en te verhoed dat die toestand verder agteruitgaan.
Amanda de Lange, voorsitter van die Krugersdorpse gemeenskapspolisiëringsforum, sê dit sou ideaal wees om so ’n veiligheidsafdeling te hê, maar ’n gebrek aan mannekrag maak dit onrealisties.
“Ons patrolleer met perde en voertuie, maar die Tarlton-polisiekantoor moet weer ’n volledige polisiekantoor word.”
Die polisiewoordvoerder van die Krugersdorpse polisiekantoor, kapt. Jacob Raboroko, sê hul kantoor het tien sektore en ’n sektorpolisiëringsvoertuig vir elke sektor.
Hy sê die polisie is saam met die provinsie aktief besig om elke dag padblokkades te hou om misdaad te bekamp. “ ’n Spesiale taakspan wat fleksietyd werk word ingespan om te help.”
Oor die bewering van die DA dat polisielede verdink word van kriminele aktiwiteite het hy gesê die polisie is nie daarvan bewus nie en as daar iemand is met sulke inligting moet hulle dit aan die polisie openbaar.
You can leave a response, or trackback from your own site.

0 Response to "’n Boer sukkel met ’n plan"

video

My Blog List