Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail

Die Jamesoninval

12:42 PM Posted by Verkenner
Leander Starr Jameson

Die Jamesoninval van 1895/96 in die ZAR was die gevolg van 'n sameswering tussen lede van diegoudmynmagnate aan die Rand, die sogenaamde Reform Committee, teen die regering van die dag. Goud het ongekende voorspoed vir die Republiek gebring, maar ook 'n vloedgolf uitlanders wat op die lange duur ontevrede was met die wyse waarop die regering hulle belange hanteer en beskerm het. In die lig van hierdie groeiende
ontevredenheid het Cecil John Rhodes, een van die goudmagnate, 'n geleentheid gesien om sy ideaal tot Ryksuitbouing te verwesenlik. Die invalsmag het op die Betchuanaland (Botswana) grens by Pitsani saamgetrek en die nag van 29 Desember 1895 die Zuid-Afrikaansche Republiek ingeval. Die opmars na Johannesburg het aanvanklik sonder teenslag vinnig gevorder tot in die omgewing van Krugersdorp.

Hier het die Boerekommando‘s vir die eerste keer teenstand gebied, omdat die dorp oënskynlik deur die invalsmag bedreig was, alhoewel Jameson by herhaling gesê het dat hy nie die land betree met vyandelike bedoelings nie, maar omdat hy reageer
op 'n uitnodiging van vooraanstaande inwoners aan die Rand om hulle te help om geregtigheid te laat geskied. Desnieteenstaande het hy 'n berig aan Krugersdorp gestuur dat hy die dorp sal bombardeer indien die Boerekommando‘s poog om die inval te stuit. Die invalsroete het vir die grootste deel oor 'n ylbewoonde, gelyk gebied gestrek. Die onbewoonde oop vlaktes van die Wes-Transvaal het aanval en verdediging bemoeilik. Die heuwelagtige omgewing naby Krugersdorp het hom beter geleen tot 'n offensief teen die invalsmag.

Dit was waarskynlik 'n belangrike oorweging waarom die Boerekommando‘s vir die eerste keer by die Queens Battery Gold Mine wes van Krugersdorp met die invalsmag slaag geraak het. Na die nederlaag by die Queens Battery het die invalsmag suidwaarts in die rigting van Randfontein teruggeval, waar hulle in die nag oor die spoorlyn is in die hoop om die volgende dag aansluiting te vind by die Potchefstroom- Johannesburg Koetsroete. Jameson het egter gou uitgevind dat die roete van sy mag deur die Boere gedikteer word. Al vegtende het hulle hom in 'n posisie ingedwing waaruit hy nie kon kom nie. Jameson was uiteindelik verplig om op 2Januarie 1896 op die plaas Vlakfontein aan Generaal Cronje oor te gee. Nadat die invalsmag op Vlakfontein gevange geneem is, is hulle na Krugersdorp geneem waar hulle met —rough consideration“ op die Markplein van voedsel voorsien is voor Cronje besluit het om die invalsmag na Pretoria te stuur.

Die Jamesoninval het nie die einde van die—uitlanderkwessie“ vir die Zuid-Afrikaanse Republiek beteken nie. Alhoewel die regering deur die gebeure gedwing is om sekere toegewings aan die uitlanders te maak, het die inval andersyds as 'n stimulus gedien wat tot groter politieke betrokkenheid deur die uitlanders gelei het. Die Jamesoninval het alle pogings om 'n Suid-Afrikaanse federasie van state op 'n vreedsame wyse tot stand te bring, die nek ingeslaan. Die Jamesoninval was 'n belangrike mylpaal op die pad na oorlog. Dit was duideliker as ooit tevore dat die onafhanklikheid van die republiek bedreig was, en die Kruger-regering het dus op groter skaal begin bewapen.
You can leave a response, or trackback from your own site.

0 Response to "Die Jamesoninval"

video

My Blog List