Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail

Moleste by Kroningspark

10:45 PM Posted by Verkenner





Hettiën Strauss

Inwoners van Krugersdorp is goed die josie in ná twee “partytjies” by Kroningspark in Krugersdorp wat glo “alle munisipale regulasies” oortree het.

Saterdag se geleentheid om 12:00 in Kroningspark is deur die Gautengse departement van vervoer, paaie en openbare werke gehou om ’n “ondersteunersparkkultuur” vir sokkergeesdriftiges te skep met die oog op volgende jaar se Konfederasiebeker en 2010 se Wêreldbekersokker.

“Niemand is verhewe bo die reg nie,” sê Kobus de Beer, woordvoerder vir infrastruktuur en openbare veiligheid van die portefeuljekomitee van die Mogale City-munisipaliteit. Hy is ook raadslid van die Wes-Randse distriksmunisipaliteit wat jurisdiksie oor Mogale City het.

“Dit is onaanvaarbaar vir belastingbetalers wanneer hul privaatheid aangetas en rus verstoor word. Daar bestaan munisipale regulasies, maar dit word nie toegepas nie.

“Tydens die beach party van sowat drie weke gelede, moes mense toegangsgeld betaal. Toe het duisende mense oral óm die park hul eie partytjie in die strate en voor inwoners se huise gehou. Ons het inwonerklagtes op skrif wat sê hul opritte is as partytjieplekke gebruik en sommige kon nie eers by hul eie huise of erwe uit of in nie.

“Ander inwoners het skriftelik gekla omdat gebreekte bierbottels oor hul heinings gegooi is.

“Die klankstelsel was oorverdowend. Inwoners meen die munisipaliteit kan selfs vir rusverstoring aangekla word,” sê hy.

Kroningspark is Saterdag omskep in ’n ondersteunerspark waar ’n grootskermtelevisie opgerig is. Toegang was gratis en later die middag kon aanhangers ook na verskeie orkeste luister.

Jan Vermeulen van Monumentpark sê hy kon Saterdagaand sowat vyf blokke verder steeds die “doef-doef” van die musiekklanke hoor.

“As dít ’n voorsmakie is van wat dié ondersteunersparke vir ons gaan inhou, sien ek nag!”

Rdl. Dennis Pretorius, inwonerswoordvoerder, sê hoewel baie sake nog onaanvaarbaar is, het “dinge” Saterdag reeds met sowat 50% verbeter. Hy sê ná die beach party het inwoners ’n beswaarskrif opgestel en die munisipaliteit versoek om die reg sonder uitsondering toe te pas.

“Inwoners het onder meer kapsie gemaak teen die geraas, dronk mense op straat en dié aanhangers wat nie binne die perke van die munisipale wetgewing optree nie.”

Volgens hom het hulle verlede Vrydag reeds met belanghebbendes op alle regeringsvlakke in gesprek getree. “Die reaksie lyk bemoedigend.”

Bongani Gaeje, woordvoerder van Mogale City, sê Saterdag se byeenkoms in Kroningspark was ’n aanvoorprojek van die Gautengse regering in samewerking met Mogale City-munisipaliteit.

“Daar is drie verskillende plekke vir ondersteunersparke in Krugersdorp met die oog op 2010 geïdentifiseer.

“Dit is die parkeerterreine by Spar, die President Hyper en Bob van Reenen-stadion.

“Kroningspark is ’n openbare park wat aan almal van Mogale behoort. Daar is nie meer ruimte vir bekrompenheid nie,” het Bongani gesê.
You can leave a response, or trackback from your own site.

0 Response to "Moleste by Kroningspark"

video

My Blog List