Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail




Elise Tempelhoff



Krugersdorp. – Hoewe-eienaars en sakelui wat woon langs die Tweelopiespruit en sy sytak, die Blaauwbankspruit, het gister hier by ’n vergadering by die regering aangedring op skoon water omdat hulle en hul werkers glo van die besoedeling siek word.

Verteenwoordigers van ’n groot bankgroep, wat anoniem wil bly, het gesê hulle (die bank) besit ’n “luukse kleinhoewe” langs die Blaauwbankspruit naby die Sterkfonteingrotte en dat hulle groot verliese weens die besoedelde water ly.

Hulle hou opleidingsessies by die kleinhoewe en is “geheel en al” afhanklik van die water in die besoedelde Blaauwbankspruit. Hulle probeer hul drinkwater suiwer, maar kry nie al die besoedelstowwe daaruit verwyder nie.

“Daar is daagliks mense wat hier siek word. Ons dring nóú aan op skoon water,” het een verteenwoordiger van die groep aan mnr. Marius Keet, adjunk-direkteur van watergehalte by die departement van waterwese en bosbou, gesê.

Keet het aan hom gesê geen rivierwater in Suid-Afrika is drinkbaar nie. “Inteendeel, geen rivierwater in die wêreld kan gedrink word nie,” het Keet gesê.

Die bankverteenwoordiger het gesê hy het swere gekry nadat sy arm en hand met die water in die Blaauwbankspruit in aanraking was. Sy mediese koste het glo “duisende rande” beloop.

Me. Bobby Bain, wat naby die Sterkfonteingrotte woon en van die Blaauwbankspruit vir water afhanklik is, het gesê sy, haar gesin en werkers is gedurig siek.

Volgens Keet is daar ’n groot veldtog aan die gang om mense in dié opvangsgebied van die Krokodilrivier-gebied teen die besoedelde water te waarsku. (Dit sluit onder meer die Tweelopie-, Riet- en Blaauwbankspruit in).

Bain het voorts gesê sy het onlangs eers gehoor die water in die riviere in die omgewing is met myn-, riool- en nywerheids-afval besoedel. Sy en haar gesin het ’n waterfilter, maar selfs dít kan nie die besoedelstowwe uithaal nie. Haar werkers is ook gedurig siek.

Mnr. Jaco Schoeman, voorsitter van die WitwatersWestern Basin Environmental Corpora-tion (WBEC) het by die vergadering gesê dié maatskappy wat in ’n vennootskap met Harmony Gold is, laat tans omgewingsimpakstudies doen vir die oprig van ’n aanleg wat suur mynwater gaan suiwer.

Sowat 15 megaliter suur mynwater borrel tans in die opvangsgebied van die Tweelopiespruit sowat 100 m suidoos van die Krugersdorpwildtuin uit.

Die WBEC voeg daagliks 15 t kalk by die water (om die suurgehalte te verbeter) en laat dit dan in die omgewing vry.

Die WBEC gaan binne twee jaar daagliks 75 megaliter suur mynwater uit die hele Witwatersrand (die westelike, sentrale en oostelike kom) pomp en gedeeltelik suiwer. Die plan is om dié “halfgesuiwerde” water dan sowat 200 km noordwes te pomp sodat die platinummyne in Rustenburg dit kan gebruik.
You can leave a response, or trackback from your own site.

0 Response to "‘Ons dring nóú aan op skoon water,’ sê mense by spruit en sytak"

video

My Blog List