Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune
Subscribe to Zinmag Tribune by mail

Tarlton heinings kwyt

12:05 AM Posted by Verkenner
Francois Oosthuizen
Die Tarlton-renbaan buite Krugersdorp waar internasionale versnelrenne gehou word, gaan die afgelope twee jaar gebuk onder diefstal en saakbeskadiging wat miljoene rande beloop.
Kallie Greef, wat by die baan woon en verantwoordelik is vir die instandhouding van die infrastruktuur, sê hulle is moedeloos.
“Die helfte van ons tyd gaan verlore om die skade te herstel wat diewe en kwaaddoeners aangerig het.”
Volgens Kallie het die diefstal ongeveer twee jaar gelede begin. “Eers het hulle al die koperkabels vir die klankstelsel en spreiligte van sowat 1 200 m gesteel.”
Nadat die kabels vervang en met beton bedek is, het diewe begin om die kabels op die pawiljoene en teen die spreiligtorings te steel.
“Een aand het vandale die stuk veld by die veldfietsbaan aan die brand gesteek en die hele paviljoen afgebrand,” het Kallie gesê. Volgens die versekeringsmaatskappy is sowat R700 000 se skade aangerig.
“Ons groot probleem is nou die heinings en heiningpale wat gesteel word.”
Volgens hom is die diewe goed georganiseer en kan tot 1,8 km se draad en pale op ’n aand steel.
Volgens Amanda de Lange van die Tarlton-gemeenskapspolisiëringsforum is die diefstal van heinings en pale baie algemeen in dié omgewing.
“Die huidige prys vir ’n staal- heiningpaal is R38; dus is dit baie winsgewend vir die diewe.”
Nóg ’n probleem is die groot aantal skrootmetaalhandelaars in die Krugersdorp-omgewing. “Daar is eenvoudig te veel handelaars vir die polisie om elkeen te ondersoek as iemand ’n klag van diefstal lê.”
Boonop is daar ernstiger misdade waarop die polisie met hul beperkte hulpbronne moet fokus.
Amanda sê hulle wil die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by buurtwagte.
“As daar genoeg inwoners is om die gebied te patrolleer, kan almal gemiddeld twee uur per aand diens doen.”
Kallie en boere in die omgewing het intussen begin om hulle heiningpale kenmerkend te verf.
“As die polisie nou by ’n skrootmetaalhandelaar kom en hulle kry ’n klomp rooi pale, kan hulle dit as Tarlton s’n uitken,” sê Kallie.
Kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder, sê mense wat vermoed ’n skrootmetaalhandelaar koop gesteelde heinings en pale kan die polisie laat weet. Hulle sal dan by die betrokke skrootwerf gaan ondersoek instel.
You can leave a response, or trackback from your own site.

0 Response to "Tarlton heinings kwyt"

video

My Blog List